Appointing a caregiver in your Will
September 27, 2019
Sweeping changes in the domestic sector in South Africa: Inclusion of domestic workers under COIDA
October 28, 2019

Wanneer is die Nasionale Kredietwet van toepassing?

Die doelwit van die Nasionale Kredietwet Nr. 34 van 2005 (“die Wet”) is om:

  • die sosiale en ekonomiese welsyn van Suid-Afrikaners te bevorder;
  • om ‘n billike, deursigtige, mededingende, volhoubare, verantwoordelike, effektiewe en toeganklike kredietmark te bevorder; en
  • om verbruikers te beskerm.

Die onus is op kredietverskaffers om te verseker dat daar aan die vereistes van die Wet voldoen word. Dit is dus belangrik om te weet wie ‘n kredietverskaffer is en wanneer daar aan die vereistes van die Wet voldoen moet word.

Die Wet:

Die Wet, met sekere vrystellings, reguleer alle krediet wat deur kredietverskaffers aan verbruikers verskaf word ingevolge ‘n kredietooreenkoms binne die Republiek van Suid-Afrika. Artikel 8 van die Wet definieer wat ‘n “verbruiker” en ‘n “kredietooreenkoms” is.

“Verbruiker”

Die Wet definieer ‘n verbruiker as alle natuurlike persone sowel as sekere regspersone. Slegs regspersone wat kwalifiseer as klein ondernemings (ondernemings met ‘n bate waarde of jaarlikse omset van minder as R 1 miljoen) sal beskerming geniet as ‘n verbruiker in terme van die Wet. Spesifiek uitgesluit van die definisie van ‘n verbruiker is staatsorgane.

“Kredietooreenkoms”

In terme van die Wet, moet ‘n ooreenkoms twee kenmerke hê alvorens dit kwalifiseer as ‘n kredietooreenkoms, naamlik:

  • Daar moet ‘n mate van uitstel van betaling wees of daar moet ‘n mate van vooruitbetaling wees; en
  • Die kredietverskaffer moet ‘n fooi, heffing of rente oplê met verwysing na die uitgestelde betaling, of die kredietverskaffer moet afslag gee met verwysing na die vooruitbetaling.

Die Wet onderskei egter tussen 3 soorte kredietooreenkomste, naamlik:

  1. ‘n kredietfasiliteit, bv. ‘n kredietkaart;
  2. ‘n krediettransaksie, bv. ‘n verbandlening;
  3. ‘n krediet waarborg; of

Enige kombinasie van bogenoemde.

Registrasie as kredietverskaffer

Die Wet vereis dat persone moet registreer as ‘n kredietverskaffer indien die hoofskuld onder alle uitstaande kredietooreenkomste die voorgeskrewe limiet oorskry. Hierdie limiet was R 500 000 by promulgering van die Wet, maar was egter gewysig met effek sedert 11 November 2016 waar die monetêre limiet verminder was na nul.

Dit beteken egter nie dat elke persoon of besigheid hoef te registreer nie. Die volgende moet steeds in ag geneem word:

  • Is dit ‘n kredietooreenkoms soos gedefinieer in terme van die Wet?
  • Is die kredietooreenkoms gesluit of effektief binne die grense van die Republiek van Suid-Afrika?
  • Geld enige van die moontlike uitsluitings bv. krediet word verskaf aan ‘n regspersoon met ‘n bate waarde van R 1 miljoen of meer, en kwalifiseer dus nie as ‘n verbruiker nie.

Vereistes in terme van die Wet:

Wanneer ‘n kredietverskaffer krediet verskaf aan ‘n verbruiker in terme van ‘n kredietooreenkoms, vereis die Wet dat die kredietverskaffer aan sekere vereistes moet voldoen. Die kredietverskaffer moet –

  • Aan die verbruiker ‘n kwotasie voorsien van alle kostes van die krediet (met ander woorde, maandelikse administrasiefooi, rentekoers sowel as eenmalige kostes).
  • Bepaal of die verbruiker die krediet kan bekostig (roekelose krediet toets)
  • ‘n Geskrewe ooreenkoms aan die verbruiker voorsien wat al die voorgeskrewe terme van die Wet bevat.
  • Nie fooie en rente hef wat meer is as die voorgeskrewe maksimum nie.
  • Rente bereken in terme van die Wet en volgens die reëls van die Wet.
  • Gereelde rekeningstate aan die verbruiker voorsien.
  • Aan die vereistes van die Wet voldoen wanneer ‘n verbruiker versuim om aan die kredietooreenkoms se terme te voldoen (met ander woorde, voorgeskrewe prosedure vir aanmanings, ens.).

Indien ‘n kredietverskaffer versuim om te registreer in terme van die Wet, of versuim om aan die vereistes van die Wet te voldoen, kan die kredietooreenkoms onregmatig en ongeldig verklaar word. Dit is dus belangrik vir kredietverskaffers om gehoor te gee aan die vereistes van die Wet.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).