Hof vir Klein Eise se perk verhoog
March 3, 2020
Has your cabin given you the fever?
May 6, 2020

Afsterwe sonder ‘n testament

Indien ‘n persoon in Suid-Afrika afsterf sonder ‘n geldige testament sal sy boedel verdeel word ingevolge die reëls van die Wet op Intestate Erfopvolging, 81 van 1987.

Dit gebeur dikwels dat ‘n oorledene mondelinge beloftes aan ‘n kind, broer of ander persoon maak met betrekking tot die verdeling van sy besittings. Indien dit egter nie op skrif gestel is in die vorm van ‘n testament nie, kan daar nie aan hierdie beloftes uitvoering gegee word nie en die reg sal bepaal wat met die oorledene se bates gebeur by sy afsterwe. Die Wet op Intestate Erfopvolging bepaal gevolglik wie ‘n oorledene se erfgename is in die geval waar die oorledene versuim om dit self te doen by wyse van ‘n testament. Dit kan katastrofiese gevolge hê.

Verdeling ingevolge die Wet word kortliks hieronder uiteengesit:

Gade(s) en kind(ers) word nagelaat

Die eerste belangrike faktor wat in hierdie geval oorweeg gaan word is die huweliksbedeling van toepassing tussen die gades. Indien daar ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere bestaan het ten tye van die oorledene se afsterwe, is die langslewende gade geregtig op haar helfte van die gesamentlike boedel. Die oorblywende waarde van die boedel, of die waarde van die boedel indien daar ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere bestaan, word verdeel tussen die gade en kinders. Die gade is geregtig om R250 000 of ‘n kindsdeel te erf van die oorledene se boedel (welke die grootste waarde het). Die kinders is geregtig om die oorblywende waarde van die boedel, in gelyke dele, te erf. Indien een van die kinders vooroorlede is, is sy kinders daarop geregtig om hom “as ‘n eenheid” te verteenwoordig en sy erfporsie te erf in gelyke dele. Indien die waarde van die boedel minder as R250 000 is, sal die gade die geheel van die boedel erf en die kinders sal nie daarop geregtig wees om te erf nie.

Geen gade, slegs kinders

Indien die oorledene se gade vooroorlede is, sal die kinders van die oorledene die geheel van die boedel, in gelyke dele, erf. Indien een van die oorledene se kinders vooroorlede is, sal sy kinders (oorledene se kleinkinders) hom verteenwoordig en sy gedeelte van die oorledene se boedel erf.

Geen gade of kinders nie

Indien die oorledene sterf sonder om ‘n gade en kinders na te laat, sal sy ouers in gelyke dele erf. Indien een van sy ouers vooroorlede is maar afstammelinge nalaat (die oorledene se broers, susters, halfbroers en halfsusters), sal die afstammelinge die betrokke ouer se helfte van die boedel erf. As die vooroorlede ouer nie afstammelinge nalaat nie, sal die langslewende ouer die enigste erfgenaam wees.

Beide ouers oorlede

Indien die oorledene nie ‘n gade, kinders of ouers nalaat nie sal die afstammelinge van sy ouers die erfgename van die boedel wees (die ma se afstammelinge kry die helfte van die boedel in gelyke dele en die pa se afstammelinge die ander helfte in gelyke dele). Indien net een ouer afstammelinge nalaat sal hulle die enigste erfgename van die boedel wees.

Ouers het geen afstammelinge nie

Indien die oorledene geen van die bogenoemde persone nalaat nie, sal sy naaste bloedverwant die erfgenaam wees (dit kan insluit grootouers, ooms , tannies, niggies en nefies).

Geen bloedverwante

Indien daar geen bloedverwante is nie sal die oorledene se boedel vestig in die voogdyfonds wat dit sal bewaar vir ‘n tydperk van 30 jaar. Indien geen bloedverwante die boedel opeis in hierdie periode nie, sal die boedel verstig in die Staat.

Ten einde te voorkom dat u boedel verdeel op ‘n wyse wat u nie aanstaan nie, maak ‘n afspraak om ‘n testament te laat opstel waarin u wense duidelik uiteengesit word.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).